|
In an article published on 13 March 2008 on the website of Die Burger, the following was written: OOS-KAAP: Perdesiekte Buite Beheer? PORT ELIZABETH. – Honderde perde ter waarde van miljoene rande het die afgelope twee weke in die Oos-Kaap gevrek weens die Afrika perdesiekte pandemie, wat glo buite beheer is.
Dié skokbevinding kom slegs ’n dag nadat dr. Lubalalo Mrwebi, direkteur van Oos-Kaapse veeartsenykunde, gesê het die uitbreking van dié siekte het afgeneem en is onder beheer.
Van die 46 perde van mnr. Francois Jordaan, van Somerset-Oos, is daar net 12 oor. Mnr. Johan Marais van Kookhuis het 19 perde verloor, en mnr. Frank Norton van Grahamstad 18 perde. In die Alexandria-omgewing het daar na bewering meer as 40 perde gevrek. Mnr. Bob Seegers van Graaff-Reinet het 7 Arabierperde verloor, met nog 11 wat siek is.
Hulle is slegs enkele perdetelers in die provinsie wat voortaan hul sente moet omdraai, want perde is duur – Marais het R380 000 skade gely en Seegers se perde was sowat R250 000 werd.Seegers meen egter teen die tempo wat die siekte versprei, is “geen perdeboer in dié stadium veilig nie”.
Daar is ook bitter min wat die boere kan doen om die siekte te verhoed, aangesien daar tans nie ’n kuur vir die siekte is nie.
Selfs perde wat teen die siekte ingeënt is, het reeds gevrek, aldus me. Ezelle Marais, ’n perdeteler en Marais se vrou.
“Veeartse sê altyd ’n perd moet drie agtereenvolgende jare ingeënt word voordat hulle immuun teen perdesiekte is. Maar ons het ’n merrie gehad wat 17 jaar lank ingeënt is, en sy het gevrek.”
Dit help glo ook nie om die siek perde in afsondering te hou nie, aangesien die siekte nie van perd tot perd oorgedra word nie.
Afrika-perdesiekte, wat ’n vrektesyfer van tussen 70% en 90% het, word versprei deur ’n muggiespesie, Culicoides.
Dieselfde muggies versprei ook die siekte bloutong onder skape.
Die muggies dra die siekte oor nadat hulle gevoed het op ’n perd se bloed wat reeds met die siekte besmet is.
Dit kom gewoonlik voor wanneer dit warm en reënerig is, omdat muggies dan volop is.
Die siekte raak perde die ergste, maar maak ook donkies en muile siek. In die Oos-Kaap oorwinter dit gewoonlik in sebras, wat immuun teen dié siekte is.
Al wat die telers kan doen om die siekte te probeer onderdruk, is om die perde se temperatuur daagliks te meet, het Seegers gesê.
Hy is heeltemal onkant betrap deur die uitbreek van die siekte op sy plaas. “Dit is die eerste keer in 20 jaar dat ek met die siekte sukkel. Toe ons ontdek dat een van die perde siek is, was sy al amper dood.”
Mrwebi het gister sy uitlating verduidelik deur te sê dat hy nog geen verslae gekry het oor perde wat die afgelope twee weke gevrek het nie. Daarom wou hy ook geen kommentaar op die hoë perdevrektesyfer lewer nie.
Mnr. Cerneels Pietersen, voorsitter van Agri Oos-Kaap, kon nie kommentaar hierop lewer nie.
Die Oos-Kaap het ’n maand gelede ook onder die Afrika-perdesiekte deurgeloop. Tóé het tientalle diere in die provinsie gevrek.
This e-mail address is being protected from spam bots, you need JavaScript enabled to view it
|